INHOUDSOPGAWE
VOORWOORD DEUR DIE MINISTER 3
AANHEF
Bevestig 5
Glo 6
Erken 6
Neem kennis 6
JOU REGTE AS 'N SLAGOFFER VAN MISDAAD 8
Die reg om met billikheid en met respek vir jou waardigheid en privaatheid behandel te word 8
Die reg om inligting aan te bied 9
Die reg om inligting te ontvang 10
Die reg op beskerming 11
Die reg op bystand 12
Die reg op vergoeding 13
Die reg op restitusie 14
KLAGTES 15
MEER INLIGTING 17
ERKENNINGS 18
AANTEKENINGE 19
VOORWOORD
VOORWOORD DEUR DIE MINISTER VIR JUSTISIE EN
STAATKUNDIGE ONTWIKKELING
Die Dienshandves vir Slagoffers van Misdaad in Suid-Afrika (die "Slagofferhandves") is 'n belang-rike instrument ter bevordering van geregtigheid vir almal. Die Slagofferhandves staan in die gees van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Wet 108 van 1996)en die Verenigde Nasies se De­klarasie van Basiese Beginsels van Geregtigheid vir Slagof­fers van Misdaad en Magsmis­bruik,1985 (GA/RES/40/34).
Sedert 1994, en in ooreen­stemming met die kweek van 'n menseregtekultuur, het die fokus geleidelik verskuif, van 'n adversoriese en vergeldende strafregstelsel na 'n stelsel van Herstellende Geregtigheid. Die kern van die konsep van Herstellende Geregtigheid is die erkenning van misdaad nie as bloot 'n oortreding teen die staat nie, maar ook as onregmatige daad of onreg wat 'n ander persoon aangedoen is.
Dit is in ooreenstemming met die Nasionale Misdaad­voorkomingstrategie se slagoffergesentreerde visie vir die strafregstelsel. Die uiteindelik doelwit is slagofferbemag­tiging deur in slagoffers se behoeftes te voorsien, hetsy materieel of emosioneel.
Die Slagofferhandves en die aangehegte Minimum­standaarde-dokument is belangrike instrumente wat die regte en verpligtinge met betrekking tot dienste van toepassing op slagoffers en oorlewendes van misdaad in Suid-Afrika verduidelik en konsolideer. Die Slagofferhandves is in ooreenstemming met die bepalings van artikel 234 van die Grondwet.
Ek is vol vertroue dat, met die verbintenis en toewyding van alle rolspelers in die strafregproses, hierdie Slagofferhandves sal bydra tot die implementering van die toepaslike wette op so 'n wyse dat dit sy doel sal dien - om geregtigheid 'n werklikheid vir almal te maak!
AANHEF
Die Regering van Suid-Afrika in die algemeen, en spesifiek die agentskappe wat in die strafregstelsel betrokke is:
Bevestig die Regering se verbintenis tot die implementering van maatreëls wat gemik is op die deurlopende hervorming van die strafregstelsel om die regte van slagoffers te beskerm en te bevorder ooreenkomstig internasionale verpligtinge kragtens internasionale menseregte-instrumente soos die VN se Deklarasie van Basiese Beginsels van Geregtigheid vir Slagoffers van Misdaad en Magsmisbruik en die addendum oor die Voorkoming en Uitwissing van Geweld teen Vroue en Kinders by die SAOG se Deklarasie oor Ge­slagsgelykheid en Ontwikkeling .
Glo dat dit deels die staat se verantwoordelikheid is om die gelyke deelneming deur almal van al die regte en vryhede wat in die Grondwet gewaarborg word, te bevorder - dat 'n billike strafregstelsel slegs verwesenlik kan word indien die regte van slagoffers sowel as beskuldigdes erken, beskerm en gebalanseer word;
Erken die ernstige impak van misdaad op slagoffers, en die po­tensiaal daarvan vir die ondermyning van 'n slagoffer se menseregte;
Neem kennis dat beduidende vordering sedert die begin van demokrasie met betrekking tot die transformering van die strafregstelsel gemaak is om te verseker dat almal, ongeag van ras, geslag, kultuur en klas, toegang tot geregtigheid en regsprosesse het. Dat verskeie maatreëls as deel van die transformasie van die regstelsel geïmplementeer is, om te verseker dat slagoffers sentraal staan terwyl hul regte opgeweeg word teen die regte van beskuldigdes, en sekondêre viktimisasie in die onderskeie stadiums van die strafregproses tot die minimum beperk word;
Om voorsiening te maak vir die konsolidasie van die huidige regsraamwerk in Suid-Afrika met betrekking tot die regte van, en dienste gelewer aan misdaadslagoffers en om:
te verseker dat slagoffers sentraal in die strafregproses bly staan;
die diensstandaarde duidelik te omskryf wat verwag kan word deur, en verleen word aan slagoffers wan­neer hulle ook al in kontak met die strafregstelsel kom;
en om voorsiening te maak vir regres vir slagoffers wan­neer standaarde nie nagekom word nie.
JOU REGTE AS 'N SLAGOFFER VAN MISDAAD
As jy 'n misdaadslagoffer was, sal die volgende regte, soos vervat in die Grondwet en relevante wetgewing, gehandhaaf word gedurende jou interaksie met die straf-regstelsel:
Die reg om met billikheid en met respek vir jou waardigheid en privaatheid behandel te word
Jy het die reg om flink en hoflik bedien te word, met respek vir jou waardigheid en privaatheid deur alle lede van enige departement, instelling, agentskap of organisasie wat regstreeks of onregstreeks 'n diens aan jou lewer (hierna diensverskaffers genoem).
Die polisie, tydens ondersoeke; die aanklaers en hof-amptenare tydens voorbereiding van en gedurende die verhoor; asook alle ander diensverskaffers, sal stappe doen om jou enige onnodige ongerief te spaar deur onder meer onderhoude met jou in jou voorkeurtaal en, indien nodig, privaat te voer.
Die reg om inligting aan te bied
Jy het die reg om inligting tydens die kriminele onder­soek en verhoor aan te bied.
Die polisie, aanklaer en korrektiewedienste-amptenaar sal stappe doen om te verseker dat enigiets wat jy tot die ondersoek, vervolging en paroolverhoor wil bydra, aangehoor en oorweeg sal word in die besluit of daar met die ondersoek voortgegaan moet word, of tydens die verloop van die vervolging of paroolraadverhoor.
Hierdie reg beteken dat jy kan deelneem (indien no­dig en waar moontlik) aan strafregverrigtinge deur die borgtogverhoor, die verhoor, vonnisoplegging en/of paroolraadverhoor by te woon.
Dit beteken dat jy die geleentheid sal hê om nóg 'n verklaring by die polisie af te lê as jy meen dat jou eerste verklaring onvolledig was; jy mag ook, waar toepaslik, 'n verklaring voor die hof aflê of tydens von­nisverrigtinge getuig om die hof se aandag op die erns van die misdaad te vestig.
Jy mag ook 'n skriftelike aansoek tot die voorsitter van die paroolraad rig om die paroolverhoor by te woon en skriftelike vertoë voor te lê.
Die reg om inligting te ontvang
Jy het die reg om oor jou regte ingelig te word en hoe om dit uit te oefen.
As deel van hierdie reg mag jy vra dat enigiets wat jy nie verstaan nie in jou eie taal aan jou verduidelik word.
Jy het die reg om inligting te ontvang en ingelig te word oor alle relevante dienste wat diensverskaffers aan jou kan lewer.
Jy sal oor jou rol in die saak ingelig word en jy mag ook weet ongeveer hoe lank die saak sal duur. Jy mag inligting aanvra oor hofdatums, getuiefooie en die getuiebeskermingsprogram.
Jy mag weet hoe die saak vorder, of die oortreder in hegtenis geneem is, aangekla is, of borgtog toegestaan is en of sy/hy skuldig bevind of gevonnis is.
Jy mag redes aanvra vir 'n besluit wat in jou saak ge­neem is oor vervolging al dan nie.
Jy is geregtig om dokumente te ontvang waartoe jy regtens toegang mag hê.
Jy mag versoek dat jy in kennis gestel word van ver­rigtinge wat jy mag bywoon.
Jy mag die aanklaer versoek om jou werkgewer in kennis te stel van verrigtinge wat jy in werkstyd moet bywoon.
Die reg op beskerming
Jy het die reg om vry te wees van intimidasie, teistering, vrees, bemoeienis, omkopery, korrupsie en mishandeling. As jy 'n getuie is, moet jy enige sodanige dreigemente by die polisie of senior aanklaer aanmeld.
Mits jy aan sekere vereistes voldoen, sal die polisie aansoek doen dat jy in 'n getuiebeskermingsprogram geplaas word.
As dié aansoek slaag, sal jy in 'n getuiebeskermings-program opgeneem word waar jy so ver moontlik beskerm sal word teen alle vorms van onbehoorlike beïnvloeding, teistering of intimidasie.
Dit sal jou veiligheid as getuie en die beskikbaarheid van jou getuienis verseker, en verhoed dat jy jou getuienis weerhou as gevolg van onbehoorlike beïnvloeding.
Hierdie reg beteken ook dat die hof in sekere omstan­dighede die publikasie van enige inligting (waaronder jou identiteit) mag verbied, of dat die hof gelas dat die verhoor agter geslote deure (in camera) plaasvind.
Jy mag Korrektiewe Dienste versoek om jou te verwittig as die oortreder ontsnap het of oorgeplaas is.
Die reg op bystand
Jy het die reg om bystand aan te vra en, waar toepaslik, toegang te kry by tot beskikbare maatskaplike, gesond­heids- en beradingsdienste asook regshulp wat jou be­hoeftes in aanmerking neem.
Die polisie sal jou bystaan deur polisieprosedures te verduidelik, jou oor jou regte in te lig en jou na ander relevante diensverskaffers te verwys.
Die kantoorbestuurder of kantoorhoof by die hof sal vir die dienste van 'n tolk reël.
Die aanklaer sal verseker dat spesiale maatreëls met betrekking tot seksuele oortredings, gesinsgeweld en kinderondersteuning of onderhoudsake getref word en dat sulke sake, indien moontlik, in gespesialiseerde howe verhoor word.
As jy spesiale behoeftes het, sal alle diensverskaffers, binne hulle lynfunksie, alle redelike stappe doen om jou tegemoet te kom en te verseker dat jy op 'n sensitiewe wyse behandel word.
Die reg op vergoeding
Jy het die reg op vergoeding vir verlies van of skade aan eiendom wat gely is as gevolg van misdaad wat teen jou gepleeg is.
Jy mag versoek om teenwoordig te wees in die hof op die datum van vonnisoplegging en die aanklaer versoek om by die hof aansoek te doen om 'n vergoedingsbevel ingevolge artikels 297 en 300 van die Strafproseswet, 1977 (Wet 51 van 1977).
Vergoeding" het betrekking op 'n bedrag geld wat 'n strafhof toeken aan die slagoffer wat verlies of skade aan eiendom gely het, met inbegrip van geld, as gevolg van 'n kriminele daad of versuim deur die aangeklaagde.
Die aanklaer sal jou in kennis stel indien 'n vergoedings­bevel toegestaan is, die inhoud daarvan verduidelik en hoe om dit af te dwing. Jy kan ook 'n siviele geding teen die beskuldigde instel as die strafhof nie 'n vergoedings­bevel toestaan nie. Dit gebeur gewoonlik wanneer die skade nie maklik in terme van geld bepaal kan word nie, soos byvoorbeeld sielkundige letsel of pyn en lyding.
Die klerk van die hof sal jou bystaan met die afdwing van 'n vergoedingsbevel wat deur die hof toegestaan is.
Die reg op restitusie
Jy het die reg op restitusie indien jy wederregtelik van jou goedere of eiendom ontneem is, of indien jou goedere of eiendom wederregtelik beskadig is.
Restitusie" het betrekking op gevalle waar die hof, ná skuldigbevinding, die aangeklaagde gelas om die eien­dom of goedere waarvan jy wederregtelik ontneem is aan jou terug te besorg, of om die eiendom of goedere wat wederregtelik beskadig is, te herstel sodat jy weer die posisie kan geniet waarin jy was voordat die mis­daad gepleeg is.
Die aanklaer sal jou verwittig wat restitusie behels, en die klerk van die hof sal jou help om hierdie reg uit te oefen.
KLAGTES
Met inagneming van die feit dat jy die reg het om te kla, mag jy die betrokke staatsdepartement of diensverskaffer kontak as jy enige klagte het oor die diens wat jy ontvang, of as jou regte oor die hoof gesien word. As jy nie tevrede is met die wyse waarop jou klagte gehanteer word nie, kan jy by die volgende instansies om hulp aanklop:
a. Die Kantoor van die Openbare Beskermer b. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie c. Die Kommissie op Geslagsgelykheid d. Die Onafhanklike Klagtedirektoraat e. Metropolisie f. Die Raad vir die Gesondheidsprofessies van Suid-Afrika g. 'n Prokureur van jou keuse en vir jou eie rekening
Lees asseblief die Minimum Diensstandaarde ten opsigte van Misdaadslagoffers as jy meer inligting oor enige aspek van die Slagofferhandves verlang. Hierdie dokument is beskikbaar by die kantore van rolspelende staatsdepartemente.
Die rolspelers in die strafregstelsel sal seker maak dat eksem­plare van die Slagofferhandves by die volgende kantore beskikbaar is:
Howe
Kantore van die Departement van Korrektiewe Dienste
Kantore van Direkteure van Openbare Vervolgings
Gevangenisse
Polisiestasies en Ondersoekeenhede
Kantore van Maatskaplike Dienste of agentskappe
Staatshospitale en -klinieke
MEER INLIGTING
As jy meer inligting verlang oor enigiets in hierdie dokument, kan jy met die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling se Geslagsgelykheidsdirektoraat by die vol­gende nommers in verbinding tree:
Tel: 315 1670
Faks: 315 1960
Tolvry nommer:
ERKENNINGS
Die Dienshandves vir Misdaadslagoffers in Suid-Afrika is opgestel deur die Geslagsgelykheidsdirektoraat in die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, in samewerking met die departemente van Maatskaplike Ontwikkeling, Korrektiewe Dienste, Onderwys, en Gesond­heid, asook die Nasionale Vervolgingsgesag, die Suid-Afri­kaanse Polisie-diens, die Suid-Afrikaanse Regshervorming­skommissie, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Kantoor van die Openbare Beskermer, die Onafhanklike Klagtedirektoraat, lede van die Landdroste- en Regterlike Dienskommissie asook lede van die Tshwane-metropolisie.
Die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling stel ook die bydraes van verskeie nie-regeringsorganisasies en akademiese instellings tot die ontwikkeling van die Slag­offerhandves hoog op prys.
Minister vir Justisie en Staatkundige Ontwikkeling
JOU REGTE AS 'N SLAGOFFER VAN MISDAAD
AANTEKENINGE
Privaatsak X81
Pretoria, 0001
Pretoria, 0002
